William Philip Schreiner

William Philip Schreiner
William Philip Schreiner

Eerste Minister van die Kaapkolonie
Ampstermyn
13 Oktober 1898 – 17 Junie 1900
Voorafgegaan deur Gordon Sprigg
Opgevolg deur Gordon Sprigg

Persoonlike besonderhede
Gebore 30 Augustus 1857
Witteberge-sendingstasie
Sterf 28 Junie 1919
Politieke party Afrikanerbond
Kiesafdeling Kimberley, Queenstown
Eggenoot/-note Frances Hester Reitz
Religie Vrydenker

William Philip Schreiner (Wittebergen-reservaat, distrik Herschel, Kaapkolonie, 30 Augustus 1857 tot Llandrindod Wells, Wallis, 28 Junie 1919) was 'n Suid-Afrikaanse prokureur, regsadviseur, prokureur-generaal, eerste minister van die Kaapkolonie, senator van die Unie van Suid-Afrika en hoë kommissaris in Londen, hoewel hy waarskynlik veral onthou word as die broer van Olive Schreiner, die eerste skrywer in Suid-Afrika wat Engelse prosa van eersterangse kaliber opgelewer het.[1] Hy en sy suster, onderskeidelik hul ouers se negende en tiende kind,[2] was die skranderste van die kroos van twaalf.[3]

William Schreiner het 'n leidende rol gespeel in die laaste twee dekades van die 19de eeu wat uitgeloop het op die Suid-Afrikaanse Oorlog. Nadat hy weens verdeeldheid in sy kabinet oor die Suid-Afrikaanse Oorlog as eerste minister van die Kaapkolonie moes bedank, het hy eers weer in 1908 tot die aktiewe politiek teruggekeer en nooit weer 'n leidende rol gespeel soos in die 19de eeu nie. Dr. W.J. de Kock skryf in Heldegalery: "Sy loopbaan was nie skouspelagtig nie, en tog was hy 'n man wat aan sy tydgenote bekend was nie alleen as briljante advokaat en regsgeleerde nie, maar as 'n waarlik goeie mens wat die eienskappe van deeglikheid, mensliewendheid en karaktervastheid in die politieke lewe en in openbare aangeleenthede as bates aangewend het." Hy noem Schreiner se lewe "mooi" en sê dit is gekenmerk deur "hardwerkendheid en deeglikheid, gepaard met vriendelikheid teenoor almal met wie hy in aanraking gekom het".[4] 'n Vriend, adv. Ralph Close, het kort ná Schreiner se dood gesê: "Whatever he said, all men believed him, that as he spake so he thought, and whatever he did, that he did with a good intent."[5]

Edgar H. Brookes skryf hoewel Schreiner anti-imperialisties was, was hy in wese 'n lojale Britse onderdaan. Toe oorlog in Suider-Afrika laat in die 1890's onafwendbaar begin lyk, het Schreiner opreg na vrede tussen Brittanje en die Boererepublieke gestrewe, soms tot die ontsteltenis van die goewerneur en Britse hoë kommissaris, sir Alfred Milner. Schreiner het gehoop, selfs al sou oorlog dan uitbreek, dat die Kaapkolonie "a little place of peace" kon bly, hoewel dit ingevolge die destydse grondwetlike beginsels outomaties by enige oorlog betrokke sou wees wat die koningin verklaar het. As die Kaapse eerste minister van 1898 af, het hy die Tweede Vryheidsoorlog onwillig betree, waarna hy weens tweestryd in sy kabinet in Junie 1900 verplig was om te bedank. In die verkiesing van 1904 kon hy nie daarin slaag om 'n setel te wen nie, en eers in 1908 kon hy terugkeer na die Kaapse wetgewende vergadering. Die subtitel van sy biografie deur prof. Eric Walker is "a South African", en dit, skryf Brookes, was hy inderdaad. "Hy lewe voort in die Suid-Afrikaanse geskiedenis as iemand wat die Afrikaners se belange altyd op die hart gedra het, selfs in hul donkerste uur, en terselfdertyd as 'n vooraanstaande kampvegter vir die Afrika-rasse, maar boweal as iemand met vlekkelose integriteit, verhewe bo bedrog en onbaatsugtig, met 'n liefde vir sy land verhewe bo alle persoonlik ambisie of gerief."[6]

Dr. T.R.H. Davenport skryf: "Schreiner was 'n uiters begaafde man en het die suksesvolste advokaat van sy tyd geword asook 'n leier van die Kaapse balie, maar in die hof het hy nie dieselfde hoë peil bereik nie. Daar was hy geneig om uit die hoogte te wees sodat hy by baie botsings met lede van die regbank betrokke was. Sy neiging om elke puntjie met oordrewe presiesheid te beredeneer, het nie alleen sy kollegas in die hof mateloos geïrriteer nie, maar ook parlementslede, wat somtyds sy uiters ingewikkelde toesprake moes verduur waarin die hooftema uiteindelik totaal vertroebel is deur besonderhede. In 'n eeu van heftige politieke partygees, het Schreiner matig probeer optree, maar nie daarin geslaag nie. Tog was hy as mens hartlik, simpatiek, veels te gulhartig en die opregtheid self sodat hy alom gewild was en hoë agting geniet het."[7]

  1. (af) De Kock, dr. W.J. in Aucamp, Gerard (red.). 1947. Suid-Afrikaanse heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
  2. (en) Brookes, Edgar H. in Potgieter, D.J. 1973. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery.
  3. (en) Meintjes, Johannes. 1965. Olive Schreiner. Portrait of a South African woman. Johannesburg: Hugh Keartland (Publishers) (Pty.) Ltd.
  4. (af) De Kock, dr. W.J. in Aucamp, Gerard (red.). 1947. Suid-Afrikaanse heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
  5. (af) De Kock, dr. W.J. in Aucamp, Gerard (red.). 1947. Suid-Afrikaanse heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.
  6. (en) Brookes, Edgar H. in Potgieter, D.J. 1973. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Ltd.
  7. (af) Davenport, dr. T.R.H. in De Kock, W.J. en Krüger, D.W. (reds.). 1986. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy